Categories
Uncategorized

Ampertjies D-dag

‘n Opstel van graad 8:

“Oppas!” My vriendinne gil toe ek die petrol in plaas van die rem trap en reguit in die paal vasry.

“Wat gaan jy vir jou pa sê?” vra Jenny toe ons buite die kar staan en die skade bekyk.
“Um…,” Ek kyk na die hoofligte wat in duisende stukkies op die grond lê. “,’n swartrenoster het in die kar vasgehardloop…? Hulle is mos blind… “
“‘n Swartrenoster in die stad? Ha!” Mandy snuif.
“Wel, ek is oop vir idees!” Ek kyk benoud na my horlosie en dan na die kar.

Ek weet ek is in diep in die moeilikheid. My pa het uitdruklik en dramaties gesweer dat as ek net in die kar se rigting kýk, is ek die res van my lewe gehok. Ek het dit net met ‘n verveelde “ja, Pa!” beantwoord.

“Gelukkig is jou pa ‘n miljoenêr…” Wys Mandy uit.
“Ek het dit!” Jenny snap haar vingers. “Ons steek net hierdie kar agter al sy ander karre weg! Hy gaan mos nooit na die motorhuis toe nie.”
“Jenny, jou doring!” Ek gee haar ‘n hou op haar rug en maak sommer ‘n bollamakiesie op die sypaadjie.

Ure later is al die bewyse verwyder en ons sit moeg en tevrede op die bank, totdat ons ‘n helikopter  reg oor ons koppe hoor brul.

Ons hardloop dak toe, en daar staan dit: ‘n yslike helikopter en my pa wat uitklim.
“Liz! As jy náby hierdie helikopter kom…!” begin hy dreigend.

“Ja, Pa!” sê ek met ondeunde oë.