Hierdie is ‘n skryfstuk wat ek in graad 11, vir ‘n kompetisie, geskryf het.

Afrikaans, my taal… Trots in my hart geplant.
Hierdie taal is so vonkelend en kleurvol, dit laat die biesies bewe met sy kreatiwiteit. Waar anders op aarde vind jy dan ‘n taal met die woorde ‘sompompie’ en ‘pokkelpensie’ in sy woordeskat?
Afrikaans lewe in ‘n wêreld van sy eie. Ons raak verlore in ons woorde en dans in hul oorspronklikheid. Ons versier ons taal deur die letters aan mekaar te snoer. Ons sin vir humor is soos ‘n skerp lig in die donker tonnel wat ons swaar tye vlerke gee. Ons taal is die klokke in die verte, die blomme in die veld, die wolke daarbo, die reën en die reënboog…
Die prag van my taal herinner my altyd aan die lug wat van pienk na rooi verkleur. Ek is so ongelooflik lief vir die taal waarin my woorde dans en baljaar en ek met vrye teuels die woorde kan skryf wat my hart vir die wêreld wil sing.
Afrikaans is ‘n skildery, my mond die kwas en my woorde die verf. Saam maak ons ‘n fenomenale kunswerk wat ‘n pragtige storie vertel. Dis ‘n kuns om met woorde te toor. Gebruik te veel beskrywings en die prentjie verdrink. Te min en die prentjie verdwyn.
Om woorde saam te laat smelt en te keer dat die sinne lomp uit mekaar soos ‘n swak konstruksie val, moet daar ‘n liefde vir die taal wees. Woorde soos ‘hysbakkies’ vir die Engelse woord ‘face-lift’ en dan natuurlik ‘vloermoer’ vir ‘n ‘tantrum’ verdiep my liefde vir my taal en verjaag enige demper op my dag. Afrikaans, lieflingtaal van my hart en siel. Waar ek myself op papier kan wees, my gedagtes heeltyd op soek na woorde wat sal inspireer.
Dit word altyd by my moedertaal gevind. Die veilige plek waarin my gebede en denke gevorm word.