Hierdie is ‘n opstel (graad 11) wat besonder na aan my hart lê, want dit gaan oor die wêreldwye pandemie waarin ons onsself bevind.

“Ek kyk op na die berge…”
Van hier waar ek sit, staar ek na die lug. Was dit so helder en blink ‘n paar weke gelede? Het die natuur só gejuig en die Here geprys ‘n maand terug? Alles buite lyk net soveel skoner en gelukkiger as toe die mensdom tussendeur beweeg het.
“Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?…” Ek is bang wanneer ek na die groeiende syfers van sterftes en siekes kyk. Sal hierdie getalle en gevalle wegkrimp? As dit wel doen, gaan dit te laat wees? Gaan iemand waarvoor ek lief is en omgee gediagnoseer word met hierdie kiem? Hy wat so stilletjies nader sluip en my dalk as vervoer gebruik om by die naaste stasie af te klim?
Ek is bang om hierdie terroris na ons veilige hawe te lok en ons Achillieshiel op ‘n silwerbord aan te dra. Dis soos om ‘n olifant in ‘n porseleinwinkel te sit. Ek voel asof daar ‘n dief buite ons huis rondsluip en vir die oomblik wag dat iemand ‘n voet buite sit.
“My hulp kom van die Here…” Dan onthou ek dat daar soveel bewaarengele is en dat die Here elke liewe gebed hoor. Selfs dié wat nie woorde kan vorm nie, maar oorloop in my hart. Dis maklik om te vergeet dat Hy ons op Sy hande dra. Dat Hy ons nooit sal laat val of vir die wolwe sal voer nie. Ons moet lewe deur geloof, nie deur wat ons sien nie.
Ons moet gló dat die Here ons sal help om veilig anderkant uit te kom. Ons moenie dink ons gaan vir altyd in die duisternis wees omdat ons hierdie toenemende syfers elke dag síén nie.
“Wat hemel en aarde gemaak het.” God is groter as hierdie terroris. Hy sál hom weghou en oorwin sodat ons nie verder hoef te veg nie. Sodat ons mekaar weer kan druk en weer oopmond kan lag.
God het deur en weer bewys dat ons nooit alleen is nie. Hy is ons prokureur, ons soldaat, ons geneser, ons herder. Hy gaan ons help om hierdie teen te staan en moed te hou!