Hierdie is ‘n baie spesiale opstel (graad 9) wat regtig na aan my hart lê.

Suid-Afrika, so koninklik kleurvol en ongelooflik spesiaal. Die enigste reënboognasie in die hele wêreld, reg voor ons oë. Die prag, oorborrelend soos God se liefde, is soos sterre in ons oë. Die berge en oop wye hemel, omring en beskerm jou soos ‘n warm, liefdevolle drukkie.
Die suiwersoet woorde “Nkosi Sikelel’ iAfrika” weerklink deur die pragtige baba-blou hemel uit honderde trotse Suid-Afrikaners se monde. Die wonderlike, sterk emosie dring deur en raak elke senuweë in jou liggaam. Dit word ‘n onvergeetlike hoendervleis-oomblik wat trane van trots in jou oë laat blink.
Giggelend, dans die diamantjies in die oop naghemel al om die hasie op die maan. Salig staar die leeutjies op en neurie saam met die krieke, hul stertjies al dansend deur die ligte briesie.
‘n Nuwe dag kom slaperig aangesluip en kleur die lug met die pragtigste skakerings van pienk en rooi in. Die skaam sonlig kom lê heuningsoet op die punt van jou tong en ons sing: “Gee my ‘n bietjie meer son, ‘n bietjie meer see, tone in die sand elke tree, ‘n kaalvoetkind sal ek altyd bly…”
Suid-Afrika, uit ons hartseer geskiedenis, het ons opgestaan en ‘n eenheid gevorm. Ons is diegene wat kan grappies maak al is tye hóé swaar. Van korrupsie na polonie, laat ons humoristiese kant ons nie in die steek nie.
My land, Suid-Afrika… Pragtig en uniek… Ons is die groeiende goud wat kan “kaalvoet sokkie” in Moeder Aarde se trane. Ons is die reënboognasie van die wêreld.
Ons is Suid-Afrika.
One reply on “My land Suid-Afrika…”
Ek Hou Baie van die een