‘n Opstel van graad 10.

Kinders is soos ‘n lag wat opborrel en sterre in jou oë sit…
Hulle is die maan en die son. Kinders verhelder jou dag met hul blinkogies en glimlaggies so wyd soos die Here se genade. Hulle is volmaakte geskenke van die Here af.
Hulle word in perfekte bondeltjies vir ons gegee. Dit is ons grootste verantwoordelikheid om hulle soos skatte te behandel. Hulle moet goed opgevoed, gedissiplineer en versorg word sodat Liewe Jesus hulle weer in dieselfde toestand sal kan terugkry.
Kinders is die toekoms. Hulle is eendag se dokters en onderwysers… Hulle kan die wêreld ‘n beter plek maak as ons hulle leer om die mooi in die sleg te sien. Ons moet hulle leer van liefde, geduld en vrede. Nie met leë woorde nie, maar met ons eie aksies en voorbeelde.
Die wêreld word daagliks geseën met pragtige, suiwer geskenkies van ons Hemelse Vader af. Hy vertrou óns met hierdie wonderlike, maar broos juwele. Om hulle oneindig baie lief te hê en hulle met ons lewens te beskerm.
Ongelukkig besef baie in die wêreld nie watse kosbare diamante aan hulle gegee is nie. Hierdie kinders word uitgebuit, mishandel en afgeskeep. Selfone, geld en werksgeleenthede is sommer baie belangriker as wat hierdie uitsonderlike pêrels is.
Hoekom sal ‘n mens verkies om meer aandag aan hul ménsgemaakte selfone te gee as aan hul Gódgemaakte kind? Deesdae beteken uiteet-saam-met-jou-gesin om met jou oë vasgegom aan jou selfoon by ‘n deftiger plek te sit. Is dit nie tog maar ook ‘n vorm van afskeping nie? Verbreek ons dan nie God se vertroue in ons nie?
God se liefde kom in baie vorme voor. Kinders is een van hulle. Hulle is ‘n konstante herrinnering van Sy nimmereindige liefde en genade. Hulle sprankelende oë is die vensters waardeur Sy vrede vloei.
Kinders is só ‘n belangrike geskenk en deel van ons lewens. Hulle is waarlik ‘n lag sonder grense wat net uitborrel met liefde.